IndustryLifestyleNewsSelling your home

Rosestad, jou doring!

28 January 2019 | Insights Team

Wat blom in Bloem? Eiendomskenner Lizelle Dykman deel haar gunsteling-doendinge.

Daar is iets besonders aan Bloemfontein. ’n Rustige leefstyl sonder fieterjasies en vriendelike, gasvrye mense vorm deel uit hiervan, en maak dat ’n mens gemaklik hier kan nesskop.

Oud en nuut ontmoet in dié Vrystaatse juweel, en die stad bied baie lae om te verken.

Bloem is ’n mekka vir studente, wat op die Kovsie-kampus studeer, en dis boonop die geregtelike hoofstad van Suid-Afrika.

Leadhome het onlangs sy intrek in die stad van rose geneem, en plaaslike eiendomsghoeroe Lizelle Dykman kan nie uitgepraat raak oor haar tuisstad nie.

Lizelle is ’n buitelewe-entoesias, met ’n liefde vir honde, perde en groot, oop spasies. Die feit dat sy haar met buitemuurse bedrywighede kan besig hou is vir haar een van die lekkerste dinge van bly in Bloem.

Dié Vrystater in murg en been bring naweke om die braaivleisvuur deur – ’n aktiwiteit wat haar familie, vriende en kollegas nét soveel geniet.

Hoewel sy in die buitelug laat waai, skram sy nie weg van die winkelsentrums en ander plekke wat ’n mens in die stad kan besoek nie. Sy hou haarself gereeld inkopieganger by die Loch Logan-waterfront en Mimosa Mall. Sou jy haar in die waterfront soek, sal jy haar waarskynlik in Ocean Basket (met ’n lekker bord kos) of in Amici Caffe Bar (met ’n koppie boeretroos) kry. Dié koffie-liefhebber kan ook Iewers Nice in Westdene aanbeveel.

Lizelle het 12 jaar ervaring in die eiendomsbedryf en meen daar is baie eiendomme wat waarde vir geld bied. Die stad het ’n rits goeie skole, wat dit ideaal vir gesinne maak.

Hier is ’n paar van Lizelle se gunstelinge:

    • Oliewenhuis-kunsmuseum: Selfs TripAdvisor stem saam dis een van dié beste plekke om in Bloemfontein te besoek! Die museum is in ’n indrukwekkende neo-Kaaps-Hollandse gebou geleë, en huisves ’n unieke versameling van Suid-Afrikaanse kuns. Vir kunsliefhebbers hoef die pret nie hier te eindig nie, want daar is ’n hele paar noemenswaardige kunsmuseums en kontemporêre galerye in die stad wat ’n besoek werd is.

  • Vrystaat Nasionale Botaniese Tuin: Dié botaniese paradys is die ‘groen hart’ van die stad en bied ’n tuiste vir onder meer boomspesies soos karee en wilde-olyf, teen ’n agtergrond van dolomietkoppies.
  • Naval Hill: Dis een van Bloem se bekendste bakens, met ’n mooi uitsig oor Bloemfontein (die Mandela-beeld kyk self uit oor die stad). Van hier af kan jy ’n drafroete aandurf of selfs wilde diere te sien kry! Die Naval Hill-planetarium maak van die Rosestad ook ’n Sterrestad.
  • Boeremark in Langenhovenpark: Die Boeremark is op ’n Saterdag van douvoordag af dié plek om varsprodukte in die stad te bekom. Terwyl die grootmense plaaslike lekkernye en heerlike koffie geniet, sal springkastele en ponieritte die jongspan besig hou. Oorweeg ook die Westdene Craft Market as jy van die markervaring hou.
  • Loch Logan-waterfront: Ja, ’n winkelsentrum is ’n winkelsenstrum, maar die waterfront is ’n lekker inkopiespasie (al die groot name is daar!). Daar is heelwat restaurante om van te kies.
  • Vir sport-liefhebbers: Van die grootste sportbyeenkomste word by die Toyota-stadion gehou. Dan is daar ook Action Sports, ’n binnenshuise sportsentrum vir diegene wat aksiekrieket, -netbal en -sokker beoefen. Rugby-aanhangers kan by die Choet Visser-rugbymuseum gaan draai.

Lizelle se aanstelling as plaaslike eiendomskenner by Leadhome is volgens haar die ideale geleentheid om kopers en verkopers in die Rosestad te help om die beste waarde vir geld te kry.

Vir meer inligting oor Leadhome, of om met Lizelle te gesels, bel 051 011 1074.

Insights Team

We're the "thinking arm" of Leadhome, combining expertise in data analysis, modelling, sociology, geography, and philosophy to interrogate current trends in the South African residential property market. Proudly contemplative since 2015.

WhatsApp Logo
WhatsApp us